#VraJouself
In ‘n wêreld waar die meeste van ons daagliks gekonfronteer word met groot uitdagings – wat soms selfs lyk of dit nie oorkom kan word nie – kan dit moeilik wees om te bly vashou aan hoop. Amanda de Lange help jou om die pad na hoop te herontdek.
Ware hoop is iets wat diep geestelik is. Dis nou as jy dit op die regte manier definieer. Om werklik hoop te hê, is meer as om net vaagweg te wil hê iets moet op ‘n sekere manier uitwerk. Dis meer as om te hoop dat dit lekker sal wees as dit nie die naweek reën nie, dat daardie handsak waarop jy jou oog het nog beskikbaar sal wees of dat daar nog plek beskikbaar is vir verblyf by jou gunsteling vakansiebestemming.
Dit is om te weet, sonder enige twyfel, dat Jesus jou hele lewe in sy hand vashou en dat selfs wanneer dit lýk asof dit nié so is nie, jy kan weet dat Hy uiteindelik sal sorg dat alles vir jou ten goede meewerk (Rom 8: 28). In verse 24 en 25 skryf Paulus: “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.”
Om dus werklik aan hoop vas te hou, moet ons heel eerste aan Jesus vashou en aan Wie en Wat Hy is. Dit is die fondasie van alle hoop. Daarsonder word hoop iets vlietend, wat soos sand tussen jou vingers deurglip en wat jy nie kan vasvat nie.
Maar hóé? Hoe kom jy by daardie plek uit waar jy hoop – gevestig in Jesus alleen – kan vasvat en kan vashou terwyl dit vir jou voel of alles om jou wankel? Hier is drie vrae wat jy jouself kan vra:
Vra jouself: Wat is daar wat ek oor my situasie of my lewe glo wat nié die waarheid is nie? Francis Frangipane het gesê enige aspek van jou lewe wat nie glinster met hoop in Christus nie, is gesetel in ‘n leuen en ‘n vesting vir die vyand. Gaan sit dus iewers waar jy rustig kan wees en bring jou skynbaar hopelose situasie na die Here toe. Vra die Heilige Gees om vir jou te wys waar die leuen is wat jy glo en aan die vyand ‘n vesting bied. Sodra jy weet wat die leuen is wat jy oor jouself, jou lewe of jou omstandighede glo, is dit moontlik om oorwinning te behaal en jou hoop te herstel.
Vra jouself: Waar kom hierdie leuen vandaan? Wanneer jy ‘n leuen wil ontwortel, is dit belangrik om te weet waar dit ontstaan het. Hier wil jy dus vir die Heilige Gees vra om vir jou te wys hoe, waar en wanneer hierdie leuen ontstaan het. Soms glo ons iets omdat iemand dit vir ons gesê het, of omdat iets gebeur het wat die vyand gebruik het om die saadjie te gaan saai wat daardie leuen metterttyd laat groei en wortelskiet het in jou lewe. God ken ons beter as wat ons onsself ken. Hy weet presies hoe, waar en wanneer daardie saadjie geplant is en hoe om dit te ontwortel.
Vra jouself: Wat is die waarheid? Die beste manier om permanent ontslae te raak van ‘n leuen is om dit met die waarheid te vervang. God weet wat die waarheid is selfs wanneer jy dit nog nie weet of kan sien nie. Jesus self is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh 14:6). Boonop belowe die Woord ons dat die Heilige Gees ons in alle waarheid sal lei (Joh 16:13). Jy kán Hom dus vertrou dat Hy vir jou sal wys wat die waarheid, en die volle waarheid is, en jou daarin sal lei. Wanneer jy by Hom gehoor het wat die waarheid omtrent jouself, jou lewe of jou omstandighede is, skryf dit neer. Verwerp die leuen en verklaar die waarheid.
Jy kan hierdie proses soveel keer herhaal as wat dit nodig is. Die meeste van ons glo ‘n hele paar leuens. Begin sommer vandag in die tuin van jou gees werk, sodat jy van die onkruid (leuens) ontslae kan raak en dit met blomme (God se waarheid) kan vervang.
Hoe meer waarheid daar in jou lewe is, hoe makliker sal dit word om jou hoop terug te vind en daaraan vas te hou.
Amanda de Lange is ‘n spesialis-lewensafrigter, veranderingstrateeg en spreker. Sy doen ook genesende afrigting, wat spesifiek op die proses van innerlike genesing fokus.
Kontak haar by 0846090344 of amanda.dlange@gmail.com
